Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 26 OKTOBER 2008

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

OPROEP OM NOMINASIES VIR RAADSLEDE

OPROEP OM MOSIES EN AGENDA-ITEMS

SPESIALE PRESIDENTSNET VIND VOLGENDE SONDAG PLAAS

SARL-LIDMAATSKAP BEREIK DIE 1300-KERF

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

OPROEP OM NOMINASIES VIR RAADSLEDE

Tydens die Algemene Jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Radioliga tree alle raadslede uit en moet ‘n nuwe raad verkies word. Dienende raadslede mag herkies word indien hulle genomineer word. Nominasies word nou ingewag en sluit op 30 November 2008.

Nominasies moet skriftelik aan die Sekretaris ingedien word en moet onderteken word deur ’n Voorsteller en Sekondant, wat opbetaalde lede van die SARL moet wees. Die dokument moet die volle naam, roepsein en adres van die kandidaat verstrek en ’n verklaring deur die kandidaat dat hy of sy gewillig is om op die Raad te dien, moet ingesluit wees. ’n Uiteensetting met besonderhede van die spesifieke kwalifikasies, vermöens en lidmaatskap van enige verwante Amateurradio-organisasies van die kandidaat moet ook verstrek word. Slegs opbetaalde lede mag genomineer word.

Nominasies moet die Sekretaris nie later nie as 30 November bereik en mag gefaks word aan 088 011 675 2793; of ondertekende dokumente mag geskandeer word en per e-pos gestuur word aan secretary@sarl.org.za.

OPROEP OM MOSIES EN AGENDA-ITEMS

Hierdie is ’n vroeë kennisgewing van ‘n oproep om mosies en agenda-items vir bespreking tydens die Algemene Jaarvergadering wat op 25 April 2009 gehou sal word. Die sluitingsdatum vir indiening is 31 Januarie 2009.

RTA-DATUM VIR WES-KAAP VERANDER

Die datum vir die Radiotegnologie-in-Aksie-simposium in die Wes-Kaap is verander van 15 Augustus na 23 Augustus on botsing met die Vuurtoringnaweek te vermy. Die finale datums is:

Gauteng 9 Mei 2009;
KwaZulu-Natal 30 Mei 2009;
Oos-Kaap 20 Junie 2009;
Wes-Kaap 23 Augustus 2009.

SPESIALE PRESIDENTSNET VIND VOLGENDE SONDAG PLAAS

’n Spesiale Presidentsnet word op Sondag 2 November gehou met die twee afgevaardigdes wat Suid-Afrika later in November by die IARU se Streek 1-konferensie gaan verteenwordig. Die afgevaardigdes sal die verskillende agendapunte waaroor gestem moet word, bespreek en u inset vra. Klubs wat hul herhalers wil koppel aan die konferensiebediener moet nie later as komende Woensdag ’n versoek daarvoor rig aan armi@sarl.org.za.

RAE-UITSLAE SAL SO GOU MOONTLIK AANGEKONDIG WORD

Die RAE-uitslae sal ongeveer drie weke neem om vrygestel te word. Die SARL versoek graag dat alle betrokkenes geduld beoefen.

Ons besef dat almal baie angstig is om hul uitslae so gou moontlik te kry en ook om te begin uitsaai.

Individuele uitslae sal nie vrygestel word nie. Alle uitslae sal gelyktydig bekend gemaak word. Ons bedank graag almal vir hul geduld.

SARL-LIDMAATSKAP BEREIK DIE 1 300-KERF

Op Vrydag het die SARL se ledetal gestaan op 1 312. Met sowat twee maande oor tot die einde van die jaar moet ons daarna mik om 1 400 te oorskry. Indien u nog nie hernu het nie, doen asseblief nou so en indien u nognie ’n lid is nie, sluit nou aan by die nasionale liggaam vir Amateurradio. Besoek www.sarl.org.za vir besonderhede en die aansoekvorm. Ons wil graag u naam tydens komende SARL-nuusuitsendings noem.

Hierdie week verwelkom ons die volgende nuwe lede:

ZSL569, Peter Hasert;
ZSL570, Cornelius Arlow;
ZSL572, Steven Lawrence;
ZSL575, Paul von Spronsen;
ZSL576, James Durand.

Dankie dat u aangesluit het. Neem asseblief deel aan ons aktiwiteite.

NEEM KENNIS DAT ONS STANDARD BANK-REKENING GESLUIT IS

Neem asseblief kennis dat die SARL se Standard Bank-rekening nou gesluit is. Gebruik asseblief slegs die ABSA-rekening. Die rekeningnommer by ABSA is 4071 588 849. Die takkode is 632 005. Sluit asseblief u roepsein of volle naam by alle transaksieverwysings in.

RUIMTEWEEKSLAGSPREUK WORD ONTSYFER

Lettergroepe van die "Ruimteweekslagspreuk" is aan Hal, ZS6WB, Roy, ZS6MI, en Eddie, ZS6BNE, gegee. Kontak is deur middel van die AO-51 satelliet met hierdie stasies gemaak en die lettergroepe is oorgedra deur die fonetiese alfabetkode. Volgens Eddie, ZS6BNE, het drie amateurs die slagspreuk ontsyfer. Hulle is Roy, ZS6MI, Henry, ZS5HR, en Paul, ZS6HQ. Die slagspreuk was "Moving silently forever listening", en dis wat satelliete inderdaad doen. Welgedaan aan dié drie. Die oefening het heelwat nuwelinge met die AO-51-satelliet laat kennis maak en ander laat nader staan wat lanklaas satelliete gebruik het.

KONSEP 2009 SARL KOMPETISIEHANDBOEK BESKIKBAAR

Die 2009 SARL Kompetisiehandboek en 2009 Dagboek van Gebeure is in konsepvorm beskikbaar vir aflaai by www.sarl.org.za. Radioamateurs en klubs word versoek om die Kompetisiehandboek deur te werk en enige kommentaar en voorstelle aan die betrokke kompetisiekomitee te stuur. Veranderings aan die Dagboek van Gebeure moet aan zs4bs@netactive.co.za gestuur word. Dit moet teen 15 November 2008 afgehandel wees.

KOMPETISIE-UITSLAE

Die voorlopige uitslae van die Lente QRP-kompetisie is bekend gemaak. Vyftien kompetisielogs en twee kontrolelogs is ontvang.

1 Watt-klas

1ste Andre van Deventer, ZS2BK – 9000 punte;
2de Jan Botha, ZS4JAN – 5 800 punte.

5 Watt-klas

1ste Rhynhardt Louw, ZS6DXB – 828 punte;
2de Byron Engler, ZR5KH – 736 punte;
3de Gary Potgieter, ZS5NK – 704 punte.

Die voorlopige uitslae van die tweede been van die SARL BHF/UHF-kompetise is bekend gemaak. Ses kompetisielogs en een kontrolelog is ontvang.

Multi-operateur-veldstasies

Pretoria ARK, ZS6PTA – 288 038 punte.

Enkeloperateur-vastestasie

1ste Willem Badenhorst, ZS6WAB – 32 050 punte;
2de Marius Preston, ZS4MP – 28 637 punte;
3de Andre Botes, ZS2ACP – 21 516 punte;
4de Pieter Jacobs, ZS6XT – 12 518 punte;
5de Paul Smit, ZS6NK – 4 724 punte.

'n Kontrolelog is vanaf Al Akers, ZS2U, ontvang.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil wees tot 27 Oktober. Daarna sal dit toeneem tot onrustige vlakke bereik word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik noordwestelike paaie.

20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15- en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Kontakte met Nieu-Seeland gaan baie uitdagend wees. Vanaf 06:00 is daar moontlike 20 m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is om 08:00 vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik. Brasilië kan waarskynlik vanaf 14:00 op 15 m gewerk word. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike goeie 15- en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se Ooskus is om 18:00 op 15 m moontlik.

10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.

Saans is 80 m die beste keuse. Met somer hier kan die donderstorms en statiese geraas ’n bietjie uitdagend wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou altyd nog steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

1 November – Pretoria Amateurradioklub snuffelmark;
2 November – Presidentsnet;
15 November – Sluitingsdatum vir leerders se opstelkompetisie "Mensdom se bewoning van die maan: kan Amateurradio 'n rol speel?";
15 November – Sluitingsdatum vir insending van kommentaar oor die kompetisiehandboek;
29 November – Kursus oor gebruik van PIC's;
30 November – Nominasie vir raadslede moet in wees;
31 Januarie 2009 – Mosies en agenda-items moet in wees.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Roger, ZR3RC, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003